Samuel Petzer is op 21 Junie 1901 in Oos-Londen gebore en het gekom uit ‘n musikale familie, met sy vyf broers wat almal verskillende instrumente kon bespeel, en sy twee susters wat orreliste was. Hy het reeds op die ouderdom van sewe die kitaar en konsertina bemeester. Na skool het hy hom as 'n stoffeerder bekwaam en het in 1934 na Johannesburg verhuis het waar hy sy beroep beoefen het, maar steeds voortgegaan het om musiek te maak. In 1938 was hy een van die eerste lede wat by Hendrik Susan se orkes aangesluit het, en hoewel hy meestal die trekklavier en konsertina bespeel het, was hy ewe vaardig op die kitaar, orrel, klavier, basviool, mondfluitjie en banjo. Saam met Hendrik Susan het hy die land deurkruis en het hulle in 1938 tydens die eeufeesviering van die Groot Trek gereeld tydens radiouitsendings opgetree.
Sam het in 1943 sy eie orkes op die been gebring waarna hy baie 78-spoed plate uitgereik het, en ook gereeld in radioprogramme gespeel het. Heelwat van sy opnames was sy eie komposisies, onder andere “Kolonie Vastrap”, “Sam Se Vastrap” en veral “Sout En Peper”, wat een van sy gewildste liedjies geword het. Oor die jare het hy ook saam met baie ander bekende musikante opgetree en opnames gemaak, byvoorbeeld Manie Bodenstein, Chris Lessing, Sam Gerber, asook Freddy Fischer, ‘n skoolhoof en baie bekwame klavierspeler van Germiston. Selfs Barry Jarman, wat later lid geword het van die baie bekende groep, The Bats, het sy musiekloopbaan in Sam Petzer se orkes begin as ‘n konsertinaspeler.
In die vroeë 1960s het Sam en Charles Berman besluit om kragte saam te snoer en het hulle twee baie suksesvolle langspeelplate uitgereik, “Kom Saam, Sing Saam, Dans Saam” in 1962 en “Kom Weer, Sing Weer, Dans Weer” in 1964. Charles het bekendheid verwerf vir sy Engelse “saam sing” plate wat baie gewild was, maar wou die konsep ook na Afrikaans uitbrei en het besluit dat Sam Petzer die man vir die taak was. Die eerste plaat was so suksesvol dat dit in 1969 heruitgereik is met dieselfde titel, net met ‘n ander omslag. In 1967 het Sam een van sy grootste wense vervul toe die album “Sam Petzer Bring Hulde Aan Oom Hendrik Susan” op die Kalahari-etiket uitgereik is. Hy het altyd net die hoogste agting en respek vir sy mentor, Hendrik Susan, gehad.
Sam Petzer is op 21 September 1969 in die ouderdom van 68 oorlede.
Ongelukkig kon ek geen persoonlike inligting oor Charles Berman opspoor nie.
Hierdie liedjie is vanaf die album "Kom Weer, Sing Weer, Dans Weer" wat in 1964 uitgereik is.
Информация по комментариям в разработке